Franswa Smit, saam met André de Villiers en Hans Strydom, het Prins Albert besoek om die dorp se sjarme en die Swartbergpas vir hul tweede seisoen vas te vang. Die trio, elk op hul eie ikoniese geborgde motorfietse – Franswa op sy Suzuki VSTROM 1050 (DE) Dual Adventure "Samurai", André op sy 1250 BMW "My 2x1", en Hans op sy Honda Africa Twin 1100 DCT "Rooikat" – het die Swartbergpas se kronkelende grondpad met entoesiasme en vindingrykheid aangepak.
Franswa, 'n hoërskoolonderwyser en stigter van MyBike Adventures & Touring (MBAT) en Motor Cycle Camping South Africa, het die visie vir 1 Spoor Avonture tydens die Covid-pandemie gekry. Sy doelwit? Om mense en motorfietse na dorpe te bring wat swaar deur die pandemie getref is, en om hul stories te vertel. "Die horison is 'n magneet," sê hy, en met 300 000 km op sy fiets deel hy sy passie vir die verkryging en verspreiding van kennis. Sy liefde vir mense en plekke skyn deur in sy werk met MyBike Adventures & Touring, waar hy afgeleë gemeenskappe ondersteun.
Hy het met André de Villiers, beter bekend as André4x4, oor die idee gepraat en gevra hoe hulle dit op televisie kon kry. "Net as ek kan saamkom," was André se antwoord. "Ek het nie geweet André het 'n motorfiets nie," lag Franswa. "Soos die meeste mense, het ek hom as André4x4 geken. Maar André is mal oor avontuur!" André, 'n meganiese ingenieur, praat amper poëties oor die mens-masjien-verhouding, en hoe hulle hoop die reeks help om die stigma wat so dikwels met motorfietsry geassosieer word, af te breek. Aanhangers en avontuursoekers kan ook uitsien na "In die spore van 1Spoor" – privaat toere wat die span hopelik binnekort sal begin om mense langs dieselfde roete te lei.
Hans Strydom, goeie vriend van Franswa en mede-eienaar van MBAT, voltooi hierdie hegte span. Hans, wat intussen sy hart aan Prins Albert verloor het, is nou op soek na sy eie stukkie van die Groot Karoo. “Hierdie plek spreek net tot my,” sê hy. “Prins Albert is uniek en pragtig onderhou, en die mense is so vriendelik.” Diegene wat Prins Albert ken, verstaan alte goed hoe die plek sy spore diep in jou hart laat.
Die reeks se sukses is ook te danke aan die uitsonderlike filmspan, gelei deur filmregisseur Simoné Ross en kameramanne Etienne Neser en Dudley Joubert. Met jare se ondervinding in die vervaardiging van programme soos Pasella, Top Billing en Kwela, bring hierdie bedryfsveterane wêreldklas professionaliteit en kreatiwiteit na die tafel. Sit terug en smul aan hierdie visuele bederf wat vanaf 7 Oktober om 17:30 op kykNET uitgesaai sal word.